Opsomming Suid-Afrika onderneem al vir ’n geruime tyd gaseksplorasie en -produksie-aktiwiteite. Aanvanklike wetgewing het nie spesifiek vir omgewingsmaatreëls voorsiening gemaak nie, maar sedert 2008 moet die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne en die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur gesamentlik bestudeer word. In hierdie jaar is die omgewingswetgewing op mynbou van toepassing gemaak. Die sogenaamde geïntegreerde-omgewing-stelsel noodsaak die Minister van Minerale Hulpbronne en Energie om nie net die noodsaaklikheid van energie te oorweeg nie, maar ook omgewingsaspekte. Verskeie beleide en wette is van toepassing op die gaseksplorasie en -produksielewensiklusse. Die belang van gemeenskappe en die omgewing het einde Desember 2021 na vore gekom met die aansoek om gaseksplorasie aan die ooskus van Suid-Afrika te voorkom. Die eerste aansoek het nie geslaag nie, maar daarna het die teenstanders van gaseksplorasie in drie opeenvolgende hofsake geslaag. Hierdie artikel bespreek nie die hofsake in diepte nie, maar gebruik die hofsake om die toepassing van die wetgewing wat gaseksplorasie en -produksie reguleer in omgewingsverband te illustreer.