Hierdie artikel beoordeel die toepassing van "Machiavelliaanse" benaderings dat die doel die middele heilig, wat tussen 1980 en 1992 as redelik suksesvolle demokratiese politieke transformasie- en oorredingstrategieë deur die Nasionale Party (NP) regering in Suid-Afrika gevolg is. Dit het onder meer doelbewuste manipulasie van inligting en ondernemings wat nie gestand gedoen was nie, ingesluit. Die doel daarvan was om wit kiesers op verskillende wyses te probeer oorreed om op 'n vreedsame, demokratiese wyse afstand te doen van hul monopolie op politieke mag en gesag tot in daardie stadium. Die suksesvolle, vreedsame konstitusionele oorgang van apartheid na volle demokrasie in Suid-Afrika tussen 1990 en 1996 kan deels toegeskryf word aan hierdie "onetiese Machiavelliaanse" politieke oorredingsprosesse van die NP. Dit het egter ook uiters negatiewe beoordelings uitgelok by konserwatiewe wit kiesers wat die leier van die NP op daardie tydstip, FW de Klerk, van disinformasie, misleiding, bedrog en selfs verraad teenoor die wit gemeenskap in die land beskuldig het. Hierdie negatiewe beoordelings bestaan steeds in baie van daardie kringe. Dit het egter groot meerderhede wit kiesers in die 1989-verkiesing en die 1992-referendum oorreed om aan die Nasionale Party vae beginselmandate te gee om die finale tegniese besonderhede van 'n nuwe demokratiese politieke magsdelingsbedeling met swart bevrydingsbewegings te beding. Machiavelli se Renaissance-denke word vyf eeue ná sy advies oor hoe om meer stabiele, responsiewe en volhoubare regerings te bedryf, as aanvaarde politieke optrede toegepas. Hierdie en ander vermeende "immorele" beïnvloedingstegnieke en optrede deur staatsagente en staatsagentskappe word naamlik in hedendaagse demokrasieë paradoksaal steeds de facto as "normale" praktyke aanvaar.