UITTREKSEL
INLEIDINGBlomvorming is waarskynlik 'n komplekse biochemies-fisiologiese proses wat nog nie goed verstaan word nie, waarin 'n aantal verskillende rolspelers 'n aandeel het en waarvan die stimulus nog nie met sekerheid geïdentifiseer is nie. Fotoperiodiese plante kan in twee hoofgroepe ingedeel word, naamlik kortdagplante (KDP) en langdagplante (LDP). KDP sal blom as die daglengte korter is as 'n sekere kritieke lengte wat verskillend is vir verskillende plantsoorte, terwyl LDP sal blom as die daglengte langer is as 'n sekere kritieke lengte en dit is ook verskillend vir verskillende plantsoorte. (Alhoewel konvensionele terminologie verwys na daglengte, is dit die kritieke donkerperiode wat eintlik belangrik is.) Dekades gelede is waargeneem dat 'n blomvormende faktor in die blare van fotoperiodies sensitiewe plante gevorm word wat na die groeipunt vervoer word om blomvorming te bewerkstellig. [1][2][3] In 1937 het die Russiese plantfisioloog, Chailakhyan, 4 die naam "florigeen" aan die vervoerbare hipotetiese stof gegee. Verder is dit waargeneem dat daar in die blare van plante wat onder 'n ongunstige fotoperiode verkeer 'n remstof gevorm word wat blomvorming inhibeer. Tot op datum kon die geaardheid van die blomvormende stimulus, na baie pogings, nie met sekerheid bepaal word nie en dit het die Heilige Graal van plantfisiologie geword. Tans word daar baie navorsing gedoen deur 'n aantal navorsers wat op verskillende aspekte van die probleem werk. 5,6,7,8
DIE SOEKTOG NA DIE BLOMVORMENDE FAKTOR(E)Baie verskillende tegnieke is in die soektog na die ontwykende florigeen aangewend. 'n Groot verskeidenheid uiteenlopende stowwe het blomvorming beïnvloed, gerem of gestimuleer. Van die ouer literatuur in hierdie verband kom voor in oorsigartikels van Zeevaart (1976) 9 asook Groenewald en Van der Westhuizen (2003). 3 Daar is drie sleutelteorieë oor die florigeenhipotese. Lang 1,2 het die "florigeenantiflorigeen" teorie gepostuleer, wat hoofsaaklik gebaseer is op entingseksperimente. Dit is bevind dat blomvorming bewerkstellig kan word deur blare wat aan induserende fotoperiodes blootgestel is, op plante wat nie geïnduseer is nie, te ent. Lang et al.2 het in hierdie verband 'n interessante eksperiment uitgevoer waarin 'n vervoerbare blomvormende stimulus, en ook 'n