Opsomming Letterkundige tekste met mediese temas word toenemend ingesluit in die kurrikula van mediese skole in die VSA in ’n poging om voornemende medici beter sosiale vaardighede en begrip vir hul pasiënte te leer. Wat die Suid-Afrikaanse konteks betref, gee Berna Ackerman se roman Met ’n ompad betekenis aan die lotgeval van ’n jong pasiënt met nierversaking. Dit kan dus as ’n bron om die waarde van letterkunde vir kliniese geneeskunde en die reg te illustreer, beskou word. Al die romankarakters se belewenisse van die jong kind se siekte, insluitend die frustrasies en wanhoop wat gepaardgaan met die wag op ’n nierskenker, verskaf ’n ryk tapisserie van belewenis wat nie alleen die leemtes in die regsraamwerk rakende orgaanoorplanting in Suid-Afrika uitwys nie, maar ook die realiteit verbonde aan die wyse waarop die reg op gesondheidsorg uitdrukking vind. Die artikel poog om in die letterkunde en die reg die waarde van Ackerman se werk te benadruk, spesifiek die rol wat dit vervul in die bewusmaking van nierlyers se situasie vanuit beide ’n regsgeneeskundige en ’n wyer sosiale perspektief, met die hoop dat begrip en empatie vir lyers nie net tot beter kliniese insig mag lei nie, maar ook broodnodige regshervorming in die konteks van orgaanoorplanting kan aanmoedig. Die artikel sluit af met konkrete voorstelle tot regshervorming wat daarop gerig is om die huidige wetlike dooiepunt rondom orgaanoorplanting eens en vir altyd by te lê.