Opsomming Samesmeltings en oornames (S&O’s) vorm ’n onlosmaaklike deel van die internasionale ekonomiese en ondernemingslandskap. Die nuutste hoëprofieltransaksie in Suid-Afrika is op 9 Maart 2023 aangekondig toe die Mededingingstribunaal die verkryging van Distell deur Heineken goedgekeur het met verskeie voorwaardes (openbarebelang-oorwegings oftewel OBO’s) aan die transaksie gekoppel. Alhoewel die Suid-Afrikaanse Mededingingswet (Wet 89 van 1998) duidelik uitspel watter faktore betreffende openbare belang as deel van die proses oorweeg moet word, is daar geen riglyne of standaarde wat aandui watter faktore in elke spesifieke geval oorweeg moet word nie. Hierdie artikel evalueer gevolglik vorige besluite (2010 tot 2019) aangaande openbare belang in ’n poging om spesifieke tendense te identifiseer en te bepaal watter faktore moontlik die finale besluite beïnvloed. ’n Unieke databasis is deur die outeurs saamgestel om as basis vir die ontledings te dien. Die ontleding is gebaseer op 221 samesmeltings met OBO’s as ’n voorwaarde. Die resultate van die ontleding toon dat gemiddeld sewe uit elke 100 samesmeltings in Suid-Afrika van 2010 tot 2019 aan die een of ander OBO moes voldoen. Internasionale samesmeltings was gedurende dié tydperk oor die algemeen aansienlik meer onderhewig aan OBO’s as hul plaaslike eweknieë. Die vereiste wat bykans deurgaans gestel is, is indiensname. Meer as 80% van die samesmeltings was onderhewig aan indiensnamevereistes. Die aantal samesmeltings met vereistes betreffende swart ekonomiese bemagtiging (SEB), industriële bevordering, indiensneming en ontwikkelingsfondse het oor die algemeen ook toegeneem. Die aantal en omvang van voorwaardes tot internasionale S&O-transaksies het binne drie jaar aansienlik uitgebrei. Dit sluit voorwaardes oor ’n breër aantal sosio-ekonomiese terreine in. Die vraag is egter of dit terreine van die samelewing is waar mededingingsowerhede op so ’n direkte wyse betrokke moet wees. Professor Duncan Reekie (1999) het reeds in 1999 ’n ekonomiese oorsig en evaluering van die nuwe Mededingingswet gepubliseer waarin hy gewaarsku het dat die insluiting van die openbarebelang-klousule tot subjektiewe en buigsame interpretasies kan lei (Reekie 1999). Plaaslike en internasionale ondernemings mag huiwerig wees om samesmeltings te oorweeg weens die onsekere toepassing van die openbarebelang-vereistes. Mededingingsbeleid is dus nie noodwendig die beste opsie om Suid-Afrika se verskeie sosio-ekonomiese probleme aan te spreek nie. Trefwoorde: mededingingsbeleid; nie-mededingingsdoelwitte; openbare belang; samesmeltings