UITTREKSELDie konsep, eunug, wat na 'n gekastreerde persoon (gewoonlik manlik) verwys, het sy oorsprong in die mitologie. Van Dit is waarskynlik by diere (manlik en vroulik) uitgevoer lank voordat dit by die mens (en dan gewoonlik by mans) toegepas is.2 Geskrifte uit Vediese Indië, en die Griekeland van Homeros verwys na kastrering van veral perde en beeste en Strabo vermeld dat die Skithe en Samaritane dit van oudsher toegepas het, hoofsaaklik om die diere meer hanteerbaar te maak en beesvleis meer eetbaar.2 Wanneer kastrering van die mens begin het, is onseker. Daar is goeie rede om te aanvaar dat dit reeds teen die einde van die tweede millennium v.C. in gebruik was en dat dit waarskynlik in die Midde-Ooste by veral Semitiese volke ontstaan het.
2'n Deel van die probleem is linguisties van aard omdat die oud-Hebreeuse woord saris wat as "eunug" vertaal word, ook ander betekenisse gehad het. In hierdie studie word die oorsprong van die eunugkonsep vanuit die mitologie nagevors en die toepassing daarvan tot aan die einde van die klassieke periode (ongeveer die 6de eeu n.C.) deurgevolg.
MITOLOGIESE OORSPRONGDaar was verskeie skeppingsmites, veral in die Midde-Ooste onder Semitiese volke, wat die bestaan van twee kosmiese oerentiteite, naamlik die lug (uitspansel) en die aarde, gepostuleer het, wat uit 'n intieme seksuele omhelsing geskeur moes word ten einde die skepping moontlik te maak.1 Hierdie losskeurproses het gepaard gegaan met verwonding van die oerkragte, en dit word deur sommige kenners gesien as 'n moontlike aanloop tot die konsep van religieuse kastrering wat reeds vroeg mitologies gestalte gekry het. 1,3 In Griekse kosmogene mitologie soos onder andere deur Hesiodos beskryf, was Uranos die oergod van die lug en Gaia die oergodin van die aarde, en uit hul gemeenskap het oerwesens, die Titane, ontstaan. Verskeie variasies van hierdie verhaal bestaan, maar in almal word Uranos eventueel gestraf omdat hy sy prokreasie-opdrag wangebruik het, onder andere deur later die pasgebore goddelike wesens te vernietig of weer in die baarmoeder terug te druk. Na aanhitsing deur Gaia (wat deur Uranos misbruik is) het Kronos sy vader se geslagsdele afgesny. Die bloed uit die wond het op Gaia gedrup, haar bevrug en so is Afrodite, godin van liefde, gebore. As straf is Kronos op sy beurt weer deur sy kind, Zeus, ontman.