Opsomming In teenstelling met die Voëlvry-beweging se sosiopolitieke verset was daar in die 1980’s ’n groot deel van die wit gemeenskap (musiekkunstenaars en hulle publiek) wat polities onbetrokke en onkrities gestaan het teenoor die apartheidsregering se beleid. Die liedjies was hoofsaaklik op vermaak en ontspanning gemik. Die gebrek aan sosiopolitieke betrokkenheid deur middel van sulke liedere het iets te sê oor die publiek se reaksie op die destydse politieke bestel. Een van die belangrikste lirieke in dié tyd wat uit ’n hedendaagse perspektief naïef onbetrokke voorkom, is ’n liedjie gesing deur Carike Keuzenkamp, naamlik “Dis ’n land”, wat op haar album Ek sing (1987) verskyn het. Dit verwoord ’n wanvoorstelling en -opvatting van die sosiopolitieke situasie van die tyd en verromantiseer dit terselfdertyd. Jare ná die einde van apartheid is dié lied deur jong kunstenaars aangepas en gebruik om die nuwe Suid-Afrikaanse werklikheid uit te beeld. Die bekende kletsrymer Francois Henning, alias Snotkop, gebruik in 2011 dié lied as grondslag vir ’n herinterpretasie op sy album Ek laaik van jol. Hierdie intertekstuele herskrywing bied ’n voorstelling van die postapartheid-Afrikaner-identiteit waarmee Snotkop homself vereenselwig. In dieselfde jaar is daar ook ’n sterk parodiërende herskepping deur Fokofpolisiekar se splintergroep, Van Coke Kartel, met Francois Badenhorst, alias Francois van Coke, as hoofsanger, op hul album Wie’s bang. Tussen hierdie herinterpretasies is daar ’n verskil in tematiekbenadering, waar laasgenoemde se aanslag as meer realisties aandoen, teenoor die idealiserende beeld van Suid-Afrika wat Snotkop voorhou. Met teoretisering oor betrokke literatuur as raamwerk argumenteer ons in hierdie artikel dat bogenoemde teksweergawes geskik is vir ’n ondersoek na verskillende sosiopolitieke en ideologiese perspektiewe op die Suid-Afrikaanse samelewing, sowel as na identiteitskonstruksies. Die oorspronklike en die herskrewe liedtekste, as vorm van podiumkuns se sosiokulturele rol en (moontlike) sosiopolitieke betrokkenheid, word ondersoek, hetsy as uitdrukking van passiewe politieke verset of as openbare platform van protes. Die onderskeie intertekstuele herskeppings verskil in sekere opsigte van mekaar en van die oorspronklike liedteks. Dit geld ook die begeleidende beeldmateriaal: albumomslae en video-opnames. Hierdie verskille en/of ooreenkomste bied nuwe terreine vir intertekstuele en interdissiplinêre ondersoek ten opsigte van ’n multimodale kultuurvorm. Trefwoorde: beeldmateriaal; herinterpretasie; herskepping; intertekstualiteit; Carike Keuzenkamp; liedteks; liriek; parodiëring; performatiwiteit; podiumkuns; podiumpoësie; popmusiek; rockmusiek; Snotkop; sosiokulturele rol; sosiopolitieke betrokkenheid; Johan Stemmet; Van Coke Kartel