OpsommingDie doel van die navorsing is om die probleme wat die Suid Afrikaanse klere-industrie ondervind, met betrekking tot liggaamsmates wat nodig is vir die vervaardiging van goedpassende klere, te ondersoek en te beskryf. Die voorsiening van klere wat aan 'n drie-dimensionele liggaam pas, bly 'n uitdaging, ook vir die Suid-Afrikaanse klere-industrie. Die probleme wat die verbruiker met pas ondervind kan egter nie sonder akkurate liggaamsmates aangespreek word nie.'n Kwantitatiewe navorsingsbenadering is gevolg. Posvraelyste is uitgestuur na Suid-Afrikaanse kleinhandelaars en klere-vervaardigers. Die totale teikenpopulasie is ingesluit vir die pos-opname. Die pos-opname is gevolg deur individuele onderhoude waartydens 'n gestruktureerde onderhoudskedule gebruik is. Doelbewuste steekproefneming is gebruik om 13 respondente volgens voorafgestelde kriteria te kies. Beskrywende statistiek in die vorm van frekwensietabelle is met inhoudsanalise gebruik om die data te analiseer.Die resultate dui daarop dat daar vir 'n aantal vertikale, horisontale en omtrekmates nie internasionale beskrywings beskikbaar is nie, of dat daar nie ooreenstemming tussen die internasionale beskrywings is ten opsigte van hoe die mates geneem moet word nie. Resultate het ook aangedui dat vir veral die vertikale mates die respondente nie saamstem met betrekking tot hoe en waar die mates geneem moet word nie. Daar word ook probleme ondervind met die neem van die vertikale mates en omtrekmates. Die gebrek aan konsensus tussen die respondente se beskrywings van mates kan toegeskryf word aan ondermeer die gebrek aan internasionale riglyne. Dit het implikasies vir die neem van akkurate liggaamsmates en die maak van goedpassende patrone.'n Wye verskeidenheid liggaamsmates word gebruik deur die Suid-Afrikaanse klere-industrie. Die gebrek aan konsensus, internasionaal sowel as plaaslik, is 'n moontlike oorsaak vir die probleme wat ondervind word. Onvolledige beskrywings met betrekking tot die identifisering van landmerke, sowel as metodes waarvolgens die mates geneem moet word, behoort deur die industrie as geheel aangespreek te word.
-Ms M Strydom