OPSOMMINGTe midde van toenemende belangstelling in interieuromgewings en die gevolglike gebruik van besittings om lewenstyl te reflekteer, kon min inligting gevind word wat lig werp op verbruikers se keuseprosesse ten opsigte van interieurprodukte. Belangstelling in hierdie produkkategorie spruit uit die besondere estetiese waarde daarvan en die moontlikheid dat hierdie produkte doelbewus gekies kan word -soos wat in die simboliese interaksionisme aangevoer word -om die selfbeeld van 'n verbruiker te projekteer (Hawkins et al, 2001:429). Daarby moet die produkte ook aan sekere kriteria voldoen om optimaal te funksioneer tydens gebruik. Bewys dat winkel-en handelsmerkbeeld oënskynlik gebruik word om verbruikersbesluite te rig, veral ten opsigte van visueel opvallende produkte (YounKyung & Seunghae 2000:58), kan belangrike implikasies vir verbruikers se kritiese bewustheid van produkeienskappe inhou. Hierdie navorsing het ten doel gehad om 'n bydrae tot die teorie, spesifiek wat die verstaan van verbruikers se aankoopgedrag ten opsigte van 'n spesifieke kategorie interieurprodukte, te maak. Hierdie produkte is geïdentifiseer as voorbeeld van visueel opvallende produkte. Implikasies vir die handel in terme van verbruikersfasilitering en gevolge in terme van verantwoordelike, ingeligte verbruikersbesluitneming, is geïdentifiseer. Doelbewuste steekproefneming is gebruik (Babbie, 1989:204) om jong onafhanklike stedelike verbruikers uit hoër sosio-ekonomiese groepe vir deelname aan 'n kwalitatief georiënteerde navorsingsprojek te werf. Data-opname is in verskillende stadia gedoen.Daar is gevind dat verbruikers neig om handelsmerke en winkelbeeld met generiese produkkenmerke te assosieer. Deelnemers kon nie oortuig dat hulle oor die vermoë beskik om produkte se intrinsieke kenmerke objektief te beoordeel nie. Hoewel die gebruik van surrogaat indikatore gerieflik blyk te wees, mag dit dui op 'n onvermoë of traagheid om relevante aankoopkriteria te formuleer, die afwesigheid van 'n kritiese bewustheid van funksionele produkkenmerke en 'n verskuiwing van die verantwoordelikheid na die handel om verbruikersbehoeftes te antisipeer. Sulke aankoopgedrag is strydig met die basiese sentiment van verbruikerswese en kan nadelige langtermyngevolge inhou wat aangespreek 10 behoort te word ter wille van verantwoordelike, ingeligte verbruikersbesluitneming. Die feit dat daar tydens produkevaluering oënskynlik op die handelaarsbeeld gesteun word, is in ooreenstemming met wat die simboliese interaksionisme voorhou, naamlik dat die komplekse samelewing op simbole staatmaak om betekenis te verkry. Interieurprodukte sal dus waarskynlik by sekere handelaars gekoop word wat vir verbruikers aanvaarbaar is omdat simbole wat bepaalde realiteite teenwoordig, daar verkrygbaar is.
-Ms NC Sonnenberg