Die artikel oorweeg die rol van afwykende minderheidsuitsprake in die Suid-Afrikaanse regsbestel. Dit vind plaas teen die agtergrond van die sogenaamde siviele minagtingsreël wat ingevolge mosie verkry word. Die regspraak in die Konstitusionele Hof tussen die Zondo Kommissie van Ondersoek teen die vorige staatspresident, Jacob Zuma, word as kontekstuele agtergrond gebruik. Daar word na al drie uitsprake verwys en kritiek word uitgespreek teen die bewoording en redevoering in die minderheidsuitsprake wat in die tweede en derde aansoeke gelewer is. Die oplegging van ’n suiwere strafsanksie (onopgeskorte gevangenisstraf) in teenstelling met ’n gebiedende sanksie (wat opgeskorte gevangenisstraf as moontlikheid insluit) word toegelig as die kernverskil in die uitsprake van die meerderheids- en minderheidsuitsprake na die tweede aansoek. Beide die minderheidsuitsprake na die tweede en derde aansoeke word gekritiseer: in die geval van die tweede aansoek, op grond van die woordkeuses en redevoering daarvan; en in die derde aansoek, op sterkte van die redevoering en miskenning van ’n interne Konstitusionele Hof-praktyksreël. Minderheids-/afwykende uitsprake word dikwels deur die howe gelewer en is dus nie noemenswaardig in Suid-Afrikaanse regspleging nie. Minderheidsuitsprake lewer dikwels ’n waardevolle bydrae tot ewewigtige regspleging. Die kritiese ontleding lei egter noodwendig tot ’n heroorweging van die plek en rol van minderheids-/afwykende) uitsprake in die Suid-Afrikaanse regsbestel. Daar word betoog dat ten spyte van die voordele van afwykende uitsprake, vier riglyne gevolg kan word deur veral regters in die Konstitusionele Hof, wat selfbeheersing, nederigheid, behoorlike beraadslaging tussen regters en navolging van die hof se eie presedente insluit. Wat die substantiewe en prosedurele aspekte van siviele minagting betref, bied die uitspraak in die tweede aansoek nou gevestigde gesag vir die voortgesette grondwetlike erkenning van die siviele minagtingsreël. Verder, dat dit voortaan gesag bied vir die oplegging van ’n suiwer strafsanksie in buitengewone gevalle van siviele minagting, mits dit aan streng regverdigheidsnorme teenoor die contemnor voldoen.