Opsomming Rusland se betrokkenheid op die Afrika-kontinent het in die laaste dekade geweldig toegeneem. Die geskarrel spruit voort uit die land se strewe om ’n teenwoordigheid saam met Amerika, China en Indië op die kontinent te handhaaf. Rusland beskik egter nie oor die vorme van diplomatieke invloed om op gelyke voet met dié moondhede mee te ding nie. Die land se plaaslike politieke stelsel plaas beperkinge op die mag wat in Afrika aangewend word. Dit bring ons by die navorsingsvraag: Watter vorme van diplomasie of invloed gebruik Rusland om die guns van Afrikalande te wen? Die vraag word beantwoord aan die hand van ’n alternatiewe raamwerk wat deur Russiese skrywers voorgestel is om verhoudinge met Afrikalande te bepaal. Die hoofuitgangspunt is dat die raamwerk as alternatief dien vir die Weste se invloed in Afrika. Op dié vroeë stadium kan vermeld word dat die Weste demokrasie en goeie regering in Afrika bevorder, terwyl Rusland fokus op die sluit van vennootskappe met outokratiese regerings, die verkoop van wapens en die aanbied van veiligheidsdienste. Die raamwerk is gebou op politieke, ekonomiese en militêre dimensies van invloed en vorm ook die basis van die land se buitelandse beleid in Afrika. Die eerste deel van die artikel ondersoek dié dimensies. Verder is daar vyf doelwitte wat die dimensies onderskryf. Dit is om Afrika as ’n middel te gebruik om internasionale mag uit te brei; om grondstowwe en natuurlike hulpbronne te bekom; om wapens en veiligheidsdienste aan Afrika-regerings te verskaf; om te help met die voorsiening van energie en kapasiteit (die bou van kernkragsentrales); en om Russiese maatskappye vir die bou van infrastruktuur te gebruik. Die instrumente wat state gebruik om invloed uit te oefen, word kortliks beskryf om dit in perspektief te stel met Rusland se dimensies van invloed in Afrika. Die tweede deel van die artikel werp lig op die praktiese waarde wat die doelwitte met die dimensies van invloed inhou. Hier word verwys na voorbeelde en na projekte wat oor die laaste aantal jare voltooi is. Die derde deel van die artikel verskaf ’n kritiese evaluasie van Rusland se buitelandse beleid in Afrika. Die laaste deel van die artikel kyk na Afrikalande se sienings oor die teenwoordigheid van Rusland op die kontinent. Afrikalande beskou Rusland as ’n natuurlike vennoot as gevolg van beide partye se ondersteuning vir ’n multipolêre wêreld, teenkanting teen Westerse imperialisme, oproepe vir die verandering van die internasionale orde en Rusland se bereidwilligheid om wapens aan Afrikalande te verskaf. Die bevindinge wys dat die voorsiening van veilgheidsdienste en die verskaffing van wapens die groot aandrywers van Rusland se betrokkenheid in Afrika is. Politieke samewerking is die sleutelbegrip om al die faktore bymekaar te bring. Kritiek is dat Rusland vennootskappe met outokratiese leiers sluit om strategiese invloed te verkry en die leiers onwettig aan bewind hou. Trefwoorde: Afrika se perspektiewe oor Rusland; buitelandse beleid in Afrika; historiese agtergrond; Rusland-Afrika militêre samewerking; Rusland-Afrika strategiese vennootskappe