In hierdie artikel skryf die outeurs oor navorsing wat hulle gedoen het oor onderwysers se siening van die onderrig van evolusie, wat in 2008 as 'n tema in lewenswetenskappe in SuidAfrikaanse skole ingesluit is. Hierdie vernuwing in die kurrikulum is met gemengde reaksies begroet. Terwyl sommige onderwysers dit met entoesiasme onderrig, is baie gekant teen die onderrig van evolusie. Die artikel is gebaseer op 'n navorsingsprojek waarby 255 onderwysers betrek is. Vraelyste is gebruik om kwalitatiewe data, wat vir diskoers ontleed is, in te samel. Die diskoers van die onderwysers het getoon dat 'n groot getal van hulle nie hul onderrigopdrag kan versoen met hul geloof nie en konsepte oor evolusie as 'feite' verduidelik, maar seker maak dat evolusie as 'n teorie gediskrediteer word. Dit het verreikende implikasies vir sowel onderwyseropleiding as kurrikulumontwikkeling. Konseptuele veranderingsteorie word as 'n lens gebruik om na hierdie problematiek te kyk.
InleidingIn die bekendstelling van die nuwe tema oor natuurlike seleksie en evolusie in die kurrikulum vir lewenswetenskappe in Suid-Afrikaanse skole word verskeie aannames gemaak oor wat onderwysers weet en wat hulle glo. Die opstellers van die nasionale voorgeskrewe kurrikulum, die Nasionale Kurrikulumverklaring (intussen verfyn en vervang deur 'n nuwe kurrikulum vir 2012, die Kurrikulum en Assesseringsverklaring [KAV]), neem aan dat onderwysers, volgens die model van Scott (2001) betreffende ontologiese posisionering, 'evolusioniste' is, wat wetenskaplike verklarings vir lewe aanvaar en nie een van die minder wetenskaplike verklarings aanhang nie. (Scott se model hou 'n kontinuum voor, met die twee teenoorgestelde pole 'skeppingsverklarings' en 'materiële evolusie', en verskeie permutasies in die middel, soos byvoorbeeld intelligente ontwerp, waar 'n persoon evolusie sien as deel van God se skepping.) Die onderwysers saam met wie ons gewerk het, toon kenmerke waarin die kategorieë in Scott se model in sommige gevalle ineenskakel; die Hindoe-onderwysers sien evolusie en reïnkarnasie byvoorbeeld in dieselfde lig. In ander gevalle hou onderwysers radikaal by hul eie letterlike verklarings van die Bybel of die Koran wat, vir hulle, die kanonieke tekste is oor die aarde, en veral die mensdom se bestaan. Heelwat van die Christen-en Moslem-onderwysers het hierdie soort siening.Dit is bekend in die alledaagse omgang dat mense dikwels alternatiewe, vaste begrippe ('konsepsies' in die diskoers van konseptuele veranderingsteorie) het oor evolusie en dat heelwat konseptuele verandering nodig is vir diesulkes om die evolusieteorie te begryp en te aanvaar. Om vaste persoonlike begrippe te verander is nie maklik nie, veral nie as dit met geloofsoortuiging gepaardgaan nie. Baie onderwysers kan hul (ontluikende) begrip van evolusie nie versoen met hul godsdiensoortuiging nie. Die twee wêreldbeelde kan skynbaar nie ontmoet nie -nie psigologies nie en veral ook nie sosiologies nie. In groepsverband word 'n godheidsin versterk deur die gemeenskaplike narratiewe en metanarratiew...