Opsomming: Aan die begin van 2008 was groot dele van Suid-Afrika geraak deur kragonderbrekings wat sporadies en oor 'n groot gebied vir 115 dae aan die orde was nadat die nasionale kragvoorsieningsinstansie, ESKOM, gebuk gegaan het onder wat, volgens die media, aan ongeëwenaarde kragverbruik toegeskryf is.Die respons van verbruikers in alle samelewingsfere het gewissel van woede-uitbarstings tot 'n gelate aanvaarding van die toestand. Beskou vanuit die perspektief van die geskiedenis van mentaliteite, was die respons simptomaties van 'n kulturele reaksie wat daarop gedui het dat gewone mense van mening was dat 'n infrastrukturele diens, soos kragvoorsiening, mos nie net tot stilstand kan kom nie.In die studie word gelet op die wyse waarop die kragonderbrekings van Januarie-April 2008 gekaats kan word teen die agtergrond van 'n andersoortige ervaring van herinneringe wat, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in ander wêrelddele, manifesteer. In wese kom dit daarop neer dat daar sprake is van 'n mentaliteitsgeskiedenis wat in die hede vasgevang is.
Inleiding: Vrees as drywer teen vervalVerval, verklaar Jared Diamond, is die resultaat van wilsbesluite wat deur 'n samelewing geneem word.¹ Aan die hand van 'n reeks historiese en kontemporêre gevallestudies uit verskillende wêrelddele, maak hy in een van sy resente werke 'n sterk saak uit vir dié standpunt. Hy verduidelik dat die historiese rekord daarop dui dat optredes wat tot verval aanleiding gegee het die resultaat was van 'n onvermoë