In hierdie artikel word gefokus op aspekte wat deel uitmaak van 'n omkeerproses. Sodanige proses behoort oorweeg te word waar krimpende gemeentes in 'n doodloopstraat verkeer. Alhoewel die kompleksiteit van so 'n proses duidelik na vore kom, is 'n omkeerproses tog moontlik. Die Skrifbeginsels wat so 'n proses moontlik maak, behoort binne elke gemeentelike konteks uniek ontdek en toegepas te word. Die diepgrondige selfleerproses en die voordele wat 'n waarderende taalaanpak ('Waarderende Ondersoek') in die proses het, lei tot die besef dat nie net die inhoud nie, maar ook die manier waarop dit gedoen word van 'n omkeer behoort te getuig. Die talle verweefde aspekte waaraan aandag gegee word, kan rigtinggewend wees vir diegene wat erns maak met die moontlikheid om groeiende en gesonde kerkpraktyke daar te stel.
InleidingIn hierdie artikel word 'n breë raamwerk vir die moontlikheid van 'n omkeerproses bespreek. 'n Voorafproses wat in die denke van elke gelowige plaasvind, is die beginpunt van 'n diep volhoubare verandering. Die onontbeerlike eerste treë van omkeer is derhalwe om eers die bestaan van 'n krisissituasie te erken, om selfondersoek te doen van die eie bestaande denke of praktyk en om tot die eerlike besef te kom dat werklike bekering die enigste uitweg is (Rheeder 2012). Elke denkaksie vind deur middel van woorde plaas, dus deur taal. Die taalaanpak behoort as deel van die omkeer beskou te word. Taalgebruik Indien die voorafstrategie nie deurtastend beleef en deurleef word nie, kan daar nie sprake wees van omkeer of enige verdere verloop van 'n omkeerproses nie. Met 'n waarlik bekeerde, volhoubare ingesteldheid en openheid aangaande die wil van God, kan dan op die onontbeerlike aspek van omkeer gefokus word, naamlik die vier beginsels wat uit die Groot Gebod (liefdesgebod) spruit.Nadat gehoorsaamheid aan die Groot Gebod deeglik en duidelik begryp is, kan voortgegaan word om 'n Christosentriese, gebedsgedrewe, missionale en organiese gemeente-aanpak op 'n menslike wyse te benader. Die aanpak behoort deur die omkerende gemeente teologies, kontekstueel en ekklesiologies ondersoek en geanaliseer te word, sodat die skriftuurlike beginsel van natuurlike groei (opbou en uitbou; Schalekamp 2005:4, 31, 34;Venter 2013), ook bekend as die biotiese strategie, op menslike wyse stelselmatig verwesenlik kan word. Terselfdertyd behoort duidelik kennis geneem te word van drie ander gelyklopende strategieë, naamlik die kommunikatiewe, die leierskap-en die revisioneringstrategieë. Kennis van die breë samehang van 'n omkeerproses kan vir gemeentes wat erns maak met bekering of verdieping van deurslaggewende waarde wees.