Die Afrikaans wat die meeste bruin mense van Suid-Afrika en ook Namibië as huistaal gebruik, is tot op hede wat betref die akoestiese eienskappe van die vokaalsisteem daarvan nog baie afgeskeep. Dit is ten spyte van die feit dat dit ongeveer die helfte van Afrikaans in sy geheel uitmaak. Volgens die 2011-sensus (Stats S.A. 2011) was van die 41 miljoen Suid-Afrikaners 8,9% bruin, net soveel as wit Suid-Afrikaners, wat dit bloot wat getalle betref, noodsaaklik maak om eweseer vakwetenskaplike aandag te kry. (’n Baie klein aantal swart en Indiese inwoners van die land het ook Afrikaans as hulle huistaal.) Bloot deskriptief taaltipologies gesproke is dit natuurlik van die grootste belang dat hierdie variant van Afrikaans die aandag kry wat dit verdien. Die basiese doel van hierdie artikel is om ’n benaming te vind vir die Afrikaans wat deur bruin sprekers as huistaal gebesig word. Ek motiveer die gebruik van die naam Bruinafrikaans. Mens kan op grond van ’n akoestiese beskrywing van die vokaalsisteme van ’n verteenwoordigende groep bruin sprekers met Afrikaans as huistaal ’n begin maak om te bepaal of na hierdie sprekers se taal verwys kan word as Bruinafrikaans, en of daar gespesifiseer sal moet word, byvoorbeeld “die Afrikaans wat deur die bruin sprekers van die Kaapse Vlakte gepraat word”. Dit is van groot belang om sodanige beskrywing van dié belangrike dog verwaarlooste variant ter beskikking te hê, en nie net om puur taalkundige redes nie; dit is meer spesifiek ook in ’n sosiofonetiese raamwerk van groot belang, nie net ten opsigte van die groter Afrikaanse taallandskap nie, maar ook in algemeen-linguistiese belang, aangesien daar ook in internasionale opsig groeiende belangstelling in die Afrikaanse fonologie is. Daar word in hierdie artikel ’n begin gemaak deur te fokus op één vokaal, die lang, lae vokaal in die woord baas. Hierdie vokaal word dikwels op impressionistiese gronde uitgelig as tipies Kaaps, maar ook in ’n groter konteks. Ek gebruik ’n relatief nuwe metode van spraakopnames met behulp van slimfone. Opnames is gemaak in tien gebiede waar Afrikaans oorheersend as huistaal gebruik word (in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes en Namibië). Opnames is per WhatsApp aan my gestuur vir prosessering en ontleding. Die spektrale eienskappe van die vokale (F1 en F2) is onttrek, op grond waarvan die vokale van ongeveer 300 sprekers ontleed en beskryf is. Ontledings toon dat die vokaalsisteem van hierdie sprekers ondersteuning is vir die aanname dat daar wel van Bruinafrikaans as enkele variëteit gepraat kan word. ’n Opmerklike aspek van die spraak van hierdie deelnemers, geoordeel bloot aan die uitspraak van die genoemde vokaal, is die stabiliteit oor tyd heen van hierdie variëteit: Jong en ou sprekers se akoestiese metings toon prakties geen verskil nie, ook nie die uitspraak van manlike en vroulike sprekers nie. Dit is kontra die verwagting in die kader van taalvariasie en -verandering. Laastens is dit duidelik dat dit relatief veilig is om van woordelyste gebruik te maak, en nie van leesstukke soos “Die Noordewind en die Son” nie, wat natuurlik veel meer ekonomies betreffende tyd en koste is. Trefwoorde: akoestiese kenmerke; benaming; Bruinafrikaans; etnisiteit; geografiese ligging; geslag; ouderdom; sosiofonetiek; spektrale eienskappe; taaltipologie, vokaal; vokaalfrekwensies; vokaalsisteem